REGS: ’n Skare op die rantjies by die Vrouemonument die dag voor die onthulling op 16 Desember 1913.
Op 16 Desember 1913 is die Vrouemonument in die teenwoordigheid van meer as twintigduisend mense deur mev. Steyn, vrou van die oudpresident, onthul. Emily Hobhouse, ’n uiters meelewende Britse vrou wat ondanks teenstand in haar eie land baie gedoen het om die aandag op die lyding van die Boerevroue en -kinders in die kampe te vestig, het spesiaal uit Engeland gekom om die plegtigheid waar te neem, maar het weens swak gesondheid nie verder kon kom as Beaufort-Wes nie. (Nadat mej. Hobhouse op 8 Junie 1926 in Londen oorlede is, is haar as na Suid-Afrika gebring en op 26 Oktober 1926 in die basis van die gedenknaald ter ruste gelê.)
Ook M.T. Steyn was glad nie meer gesond tydens die onthulling nie. Hy het dit wel bygewoon, maar sy boodskap moes voorgelees word. Diep ernstig het hy sy mense daaraan herinner dat dit nie baat om monumente vir die dooies op te rig terwyl die lewendes toegelaat word om in armoede en ellende te versink nie. Hy het ook gewaarsku dat die Afrikaner sou ophou bestaan as hy volhard met sy verdeeldheid. (Dit was ’n klaarblyklike verwysing na die verskille in die destydse politiek en die breuk in Afrikanergeledere—kort daarna het die Nasionale Party tot stand gekom.)
Comments
Post a Comment